Instructor - Alida

Ek het nooit op skool gedans nie, maar was altyd baie lief vir dans en onthou hoe ek en my sussie altyd danskompetisies gehou het tydens skoolvakansies en naweke. In die koshuis het ek ook alewig dansgroepies gehad wat elke middag geoefen het. So eintlik dans ek nog altyd,maar het nooit besef hoekom ek so baie daarvan hou nie. ek het nooit ‘n gedagte gegee dat ek dit sou doen vir ‘n lewe nie.

Toe na skool in ‘n diensjaarspan (TiC’s) was het ek vir Cheray Dekas ontmoet en sy het vir ons begin leer oor dans. Sy het ook nooit as kind gedans nie en het op 20 begin met ballet. Sy was op daardie stadium besig met haar finale ballet eksamens en sou haar Associate (Teachers eksamens) begin. Daar het ek besef dis wat ek ook wil doen: dans vir die Here.

Ek het niks van ballet gehou nie (ek het vir 2 lesse gegaan) en toe met Moderne danse begin. Ek was toe 22. Ek was ingedeel by ‘n 9-jarige klassie en het my eerste eksamen saam met hulle gedoen. My dansjuffrou het nog vir my haar skoene geleen vir my eerste eksamen, want ek het nie geld gehad om skoene te koop nie. Ek dink sy het gedink ek is sommer simpel om op daardie ouderdom te wil dans, maar sy was darem baie geduldig met my.

Daarna is ek Brakpan toe want Ewald het begin studeer by die Teologiese Kollege en RAU. Hy het Jeugwerk gedoen in Brakpan en ons was ‘n paar TiCs studente wat ook daar gaan uithelp het. Daar het ek by Thelma Isaacs opgeeindig. Sy was to 74 en het net Teachers opgelei. Sy kom van Israel af en is een van die stigterslede van die AIDT. Sy het besluit om my te leer en ek het 3x per week na haar toe gegaan. Ek het elke jaar 2 of 3 eksamens gedoen en na 3 jaar was ek klaar met alles. Sy het regtig baie moeite met my gedoen en ek was bevoorreg om by die beste van die bestes te leer.

Toe ek in Brakpan gekom het, het ek ook dadelik begin met ‘n paar klasse by kleuterskole en kerke. Ek het sowat 90 dansers uit verskillende kerke gehad en dit was asof my droom begin lewe kry het. Ek het agtergekom dat ek die beste leer wanneer ek ander leer. Alles wat elke elke week geleer het, het ek dan vir my student geleer en dit was ‘n baie goeie begin. Daar het ek besef dat dit al is wat ek wil doen.
Toe Ewald klaar gestudeer het is ons dadelik terug Kaap toe (2000) en hier het ek na baie verskillende dans juffrouens gegaan, maar ek kon niemand vind wat ek van gehou het nie. Baie van die dansskole se skedules het ook nie vir my gepas nie. Na 18 maande het ek by June McKinnon opgeland. Sy is vandag nog ‘n groot deel van my lewe en leer my alles wat ek moet weet om ‘n goeie dansjuffrou te wees.

In daardie 18 maande het die Aidt baie van hulle sillabusse aangepas en verander en moes ek 2 van die eksamens weer oordoen. Dit was vir my baie erg, want ek wou net klaar kry en op die ou end het ek omtrent 3 jaar gevat voor ek my volgende eksamens gedoen het. Daarna nog 5 jaar vir my Teachers. Dit het begin voel of dit net nooit gaan klaarkry nie… Soms voel mens dit vat net te lank, maar ek het hier geleer om ‘n dag op ‘n slag te vat en dat ek wel eendag sal klaarkry.

Binne drie maande in die Kaap het ek meer studente gehad as in Brakpan en was die droom goed op dreef. Ek het die dansskool “Christ-like dance Company” genoem en onder daardie naam klas gegee vir 2 jaar. Daarna het ek dit verander na Vibrant School of dance.

Vandag is Vibrant 7 jaar oud en kan ek terugkyk oor ‘n baie spesiale tyd in my lewe. Ek doen nou my finale Teachers eksamen (op 36), na ‘n babatjie en twee beserings. Ek wou dit graag doen op 30, maar op die ou end maak dit nie saak hoe lank dit vat nie, solank mens net klaarmaak. Die einde is nou in sig…. Aanhouer wen!!!

Ek het ‘n paar baie groot lesse geleer en ek dink my getuienis en lewe kan vir baie mense ‘n aansporing wees om hulle droom na te volg. In die wereld se oe kan ‘n mens nie begin dans op 22 nie, want dan is jy heeltemal te oud. In God se oe werk alles anders: As hy vir jou roep om iets te doen, gee hy vir jou ook die vermoe om dit te kan uitrig. Ek sal nooit die beste danser wees nie, maar ek was gehoorsaam en die Here seen dit. Ek kan wel die beste dans juffrou wees en in ander se lewens bele. Ons kan die beste dansers he met harte wat lief is vir Jesus en ons kan ‘n ander gees in die danswereld inbring.

Ek is baie opgewonde oor alles wat voorle vir Vibrant, want ek weet die Here is in beheer en dis nie net my droom nie, maar God se droom. Hy is aan die voorpunt en lei ons in die regte rigting. Ons is nou op ‘n plek waar ons dansers wat in 2001 begin dans het, hulle Teachers begin en ook begin klasgee. Dit is vir my so fantasties om te sien hoe ons dansers groei en ontwikkel en om te sien hoe die Here in elkeen se lewe besig is. Ons het nodig om weer ‘n standaard in die kerk te stel as dit by die kunste kom, en Vibrant kan hiertoe bydrae.

Vandag is ons 280 dansers en gee ons 47 klasse elke week. Ek sien uit na wat nog kom, want ek glo ons is nou op ‘n plek waar ons begin om ‘n standaard daar te stel, en goed genoeg is om groter projekte aan te pak.
Vir almal wat ‘n kinderdroom gehad het en nooit die geleentheid gehad het om dit te vervul nie, wil ek aanmoedig. Onthou, jy is nooit te oud om iets nuuts te leer wat jy graag wil nie. Maak nie saak wat dit is nie, of dit is om te dans of om Frans te leer praat of om klavier te speel. Volg jou drome. Die Here gee vir ons drome en goeie begeertes. Hy sal ons ook help om dit te laat gebeur.


 

 


Image Solutions - Photography, Graphic & Web Design
www.imgsolutions.co.za

www.jbphoto.co.za